MINDERJARIGE SOOS KRIMINEEL GEHANTEER
Van links is Granwill Roelf, Cameron Marthinus, Andrew Adonis, Bradwin de Bruyn, Angelo Julies, Marius Absolom. Van die seuns is glo anaal ondersoek in ‘n polisie-klopjag op Adonis se perseel.
Die polisie het ‘n 14-jarige seun sy broek laat aftrek, vooroor laat buk, en toe ‘n flitslig in sy anus geskyn en hom en sy vriende geforseer om mekaar se anusse te ondersoek vir dagga.
Dít is wat ‘n seun en sy ma van Wesbank, albei van die Rastafariër-gemeenskap hier, beweer Vrydag gebeur het tydens ‘n polisie-klopjag op ‘n gewilde Rastafariër-kuierplek.
Daar word glo dagga verkoop by Madibastraat 22, maar die ouers van kinders wat hierheen kom, het nie probleme met dié plek nie.
“Ek ken die eienaar van die plek waar die kinders sit. Dis ‘n veilige plek vir my kind om te sit. Ek hoef nie te bekommer waar hy is nie,” sê Rhonda Keys. Sy het gesê wat gebeur het, het haar laat besef die polisie het haar kind oor die dinge ‘slim’ gemaak.
Haar seun, wat ten tyde van die klopjag op dié perseel was, wil nie sy naam genoem hê nie.
Hy het aan TygerBurger verduidelik wat gebeur het: “Hulle (polisie) het ingekom toe sien hulle ons skiet kerimbord. Toe gaan hulle regdeur agtertoe na die manne wat (dagga) rook. Toe kom hulle weer vorentoe en begin slaan sommer ‘n man in die huis,” beweer hy.
“Toe sê hulle ons moet ons broeke aftrek en ons ‘h-lle’ oopmaak, hulle wil kyk wat daarin is. Toe skyn hulle hul flitsligte daarin en sê ons moet afsak. Toe moet ons met ons broek wat afgetrek is, staan – amper asof daar nou iets moet uitval.
“Hulle het ‘n bênkie (banksakkie met dagga) op die een ou gekry, maar nie dáár nie. Toe vat hulle hom en skop hom teen sy bors, en toe pie hy in sy broek. Toe ry hulle en sê hulle gaan weer kom,” sê die seun.
Rhonda vertel verder: “Húlle het hom bewus gemaak dat dáár ook goed in weggesteek kan word. Toe my kind by die huis kom, toe wou hy by my weet hoekom hulle dan dáár gesoek het,” het sy gesê.
“Dis mos tronk-dinge daardie. Jy doen dit mos met geharde kriminele. Hoekom moes hulle my kind soos ‘n krimineel behandel? Was dit nodig dat hulle in sy agterent moes krap?” wou sy weet.
Die ouderdomme van die groep van seuns en jong mans wat op die perseel was, wissel van 14 tot sowat 24, sê die groep wat met TygerBurger gepraat het. Hulle almal se anusse is na bewering ontbloot sodat daar na dagga gesoek kon word.
Dié insident, glo uitgevoer deur ‘n taakmag van die Kuilrivier-polisie nadat bure glo gekla het oor harde musiek, het by Andrew Adonis se huis plaasgevind.
Hy het sy plek omskep in ‘n bymekaarkomplek vir jongmense van die Rastafariër-kultuur, en erken dat hulle dagga rook, want dis deel van hul kulturele gebruike.
“Die polisie kom hierheen en as hulle ons kom ‘skud’, kom hulle sonder ‘n lasbrief,” beweer Adonis. “Hulle kry niks (dagga) nie, maar die ouens word geklap en geslaan. Hulle jaag sommer die ouens weg,” sê hy.
Hy was nie ten tyde van die voorval tuis nie. “Die Rasta-manne wat hier kom, rook hier. As julle ons hier kry, kry julle ons aan die rook,” sê hy.
Grawill Roelf, een van dié wat daar was, vertel. “Toe ons broeke klaar uitgetrek is, toe sê hulle nou maak hulle mekaar (se anusse) oop en nou gaan julle binne-in mekaar (se anusse) kyk. Een polisieman het my kop teen die muur gedruk en my in my testikels gestamp,” beweer hy.
Die Rastas wat daar kom, het glo by die bure handtekeninge gaan werf om musiek daar te speel en om Saterdagaande “dubs”, of Rasta-danse, daar te hou, sê Adonis.
“Die bure het gesê hulle het nie ‘n probleem met die musiek nie. Nou kom die polisie en sê die bure kla oor die musiek. Ons speel net tot twaalfuur,” sê hy. “Ons het hulle almal se handtekeninge op ‘n blaai om te sê dis oukei dat ons hier speel,” sê hy.
Die groep sê hulle kry gereeld Rasta-kuiergaste van so ver as Paarl, maar ook van Eersterivier, Delft, Happy Valley en Kalkfontein, en dis dan dat daar “dub” gehou word op die Sabbat, Saterdae, sê hulle. Dan kyk hulle fliek, dans of hou redenaarsessies. Adonis het selfs ‘n toilet aangebou nadat bure gekla het oor die jongspan wat in die openbaar urineer, sê hy.
Twee segsvroue van die Rastafariër-gemeenskap, Ronel Thyssen en Angelique Banks, beweer dít is hoe Rastas van Wesbank gereeld behandel word.
“Daar was geen volwassenes daar tydens die voorval nie. Die polisie viktimiseer ons Rasta-jongmense. Ons wil weet hoekom word ons kinders só behandel. Ons beplan ‘n vreedsame protesoptog Vrydagoggend om nege-uur,” sê Ronel.
Angelique sê: “Ons soek nie die polisie om links en regs hier in te hardloop en ons kinders te teister nie. Daar word teen ons gediskrimineer. Trek die gemeenskap petisies op teen die tikhuise? Of die sjebiens? Nee, maar as die Rastas iets probeer doen, is dit ‘n probleem. “Elkeen het sy eie vice. Ons is grootmense. Ons kies om (dagga) te gebruik. Dis ‘n bewustelike keuse,” sê Angelique.
Kapt. Nomathemba Muavha, segsvrou van die Kuilsrivier-polisiegroep, het namens die polisie antwoord gegee oor die gebeure. “Op Vrydag 6 Augustus om 16:00 tot middernag is ‘n gekombineerde groep-optrede gedoen deur Mfuleni-, Kuilsrivier- en Kleinvlei-polisie. Soektogte is uitgevoer by verskillende huise, asook ander plekke.
“Die polisie het verskeie klagtes van die gemeenskap ontvang van kriminele aktiwiteite in die huis, asook inligting oor dwelms,” het sy gesê.
“Een inhegtenisneming is op die perseel gemaak van ‘n 19-jarige man vir besit van dagga. Hy is die volgende dag vrygelaat met ‘n waarskuwing om Maandag 9 September in die Blue Downs-hof te verskyn.
“Geen van die verdagtes was minderjarig nie,” het Muavha gesê.
“Daar was geen vroue op die perseel nie, maar daar was vroue-beamptes. Daarom …read more