Ongeveer 200kg dagga is vanoggend uitgetrek by die Centurionmeer, agter die Centurion Lake Hotel.
Die polisie van Lyttelton polisiestasiestasie het Woensdag op die plantasie afgekom en dit gerapporteer.
Donderdagoggend het die polisie en Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) saamgewerk om die gebied skoon te maak.
Hulle het ongeveer 200kg dagga uitgetrek, maar volgens adjudant-offisier Hero Gumbu, woordvoerder van Lytteltonse polisie, is daar nog baie daggaplante wat uitgehaal moet word.
“Ons sal die gebied herhaaldelik moet skoonmaak. Hierdie gaan nie ’n maklike proses wees nie omdat van die plantjies nog klein is en tussen die ander die plante groei,” het Gumbu gesê.
Die polisie het ’n beroep gedoen op vrywilligers om te help met die opruiming. “Dit sal ons weke neem om die gebied honderd persent daggavry te maak en daarom sal vele hande die werk ligter maak,” het Gumbu gesê.
Die dagga groei glo oor die hele gebied van die meer wat voor Centurion winkelsentrum loop, vanaf Lenchenrylaan tot by Hendrik Verwoerdrylaan.
“Ons kan nie gif gebruik om die plante uit te roei nie, omdat hierdie ’n beskermde gebied is met baie voëllewe. Die gif sal ook die visse in die water doodmaak,” het Gumbu bygevoeg.
Van die plante wat gevind was, was alreeds 30cm hoog.
Dit is nie duidelik waar die plante vandaan kom nie, maar die polisie glo nie dat die plante opsetlik daar geplant is nie. Die polisie vermoed dat die plantasie moontlik ontstaan het weens sade wat in die gebied ingewaai het.
“Hierdie is ’n ideale gebied vir daggakweek omdat die grond sag is, verrotte plante as kompos dien en daar ’n konstante vloei van water is,” het Gumbu gesê.
Volgens Gumbu is dit die verantwoordelikheid van Tshwane-metro om die gebied in stand te hou, maar die skoonmaakproses van die meer is verlede jaar gestaak.